Top 5 buitelug-aktiwiteite in Gauteng

Top 5 buitelug-aktiwiteite in Gauteng

Top 5 buitelug-aktiwiteite in Gauteng

Gauteng bied so groot verskeidenheid van buitelug-aktiwiteite aan dat dit amper onmoontlik is om slegs 5 doen-dinge te kies. Dit was ‘n baie moeiliker taak as wat ek oorspronklik gedink het. Die idee van die lys is om so ‘n groot verskeidenheid as moontlik te bied, selfs iets vir ouma en oupa ook.

1. Walter Sisulu Botaniese Tuine

Die tuine is in Roodepoort geleë en is ‘n ontspanne en rustige omgewing in die chaos van die stad. Die geraas van die stad word uitgedoof deur die pragtige voëlgeluide en ander wildlewe. Die tuine huisves verskeie nagdiertjies en daar is nag staproetes waar besoekers hierdie diertjies kan besigtig. Die Walter Sisulu Botaniese Tuin is ‘n fantastiese plek waar die hele familie ‘n uitstappie kan geniet of selfs ‘n piekniek op die eindelose grasperke. Met elke besoek sal jy iets nuuts gewaar.

2. Johannesburg Dieretuin

Die Dieretuin bied 10 gespesialiseerde uitstallings tesame met hulle normale uitstallings. Van die gewildste uitstallings sluit in Amazonia (diere uit Suid-Amerika en die Amasone reënwoud) en die Aap huis (die mens se naaste familielid – onder andere Oeranutangs en Gorillas). Die Dieretuin huisves verskeie bekende en minder bekende dierspesies.

3. Dieretuin Meer

Die area is ‘n bekende piekniekplek onder inwoners. Dieretuin Meer is ook die gasheer van verskeie feeste en elke maand is daar ‘n nuwe kunsuitstalling om te geniet. Wanneer jy besluit om besoek af te lê, maak seker dat jy jou hondjie of selfs jou swemklere bring indien jy vir ‘n rustige bootrit wil gaan. Die Zoo Lake Sports Club is ook hier geleë en bied ‘n groot verskeidenheid van sport wat beoefen kan word.

4. Montecasino Bird Garden

Die voëlpark is geleë binne Montecasino se gronde en talle inwoners verwys daarna as “Johannesburg se Grootste Geheim”. Moet egter nie dink dat jy net voëls daar sal tee kom nie. Die tuin huisves ook die grootste versameling van Broodbome in die wêreld. Daar is ‘n padda kamer, ‘n papegaai uitstalling asook verskeie reptiele. Die tuine is geaffilieer met die Mabula Bromvoël bewaringsprojek en alle donasies wat ingesamel word tydens die voël vertonings word aan die projek geskenk. Die Flight Fantasy show word 2 maal ‘n dag deur die week en drie maal ‘n dag oor ‘n naweek aangebied. Gedurende die vertonings is daar ‘n fantastiese skou van hoe wonderlik en skouspelagtig die voëls is!

5. Die Wits Planetarium

Hier vind al die opwinding en leer binne ‘n gebou plaas, maar mens kan die natuur en buitelewe op ‘n heel ander vlak waarneem en ervaar. Die planetarium is geleë op Wits se kampus en bied ‘n verskeidenheid praatjies en vertonings aan. Dit stel besoekers in staat om meer oor die buitenste ruim te leer en alles wat dit bied.