Top 10 aktiwiteite in Bloemfontein

Top 10 aktiwiteite in Bloemfontein

Top 10-aktiwiteite in Bloemfontein

Daar is verskeie lekker doen-dinge in Bloemfontein om te doen sonder om die bank te breek of om te reis. Meeste inwoners vergeet dat Bloemfontein eintlik baie lekker aktiwiteite het en dat dit meestal die moeite werd is om plaaslike ondernemings te ondersteun.

1. Bloem Fun Centre – Skougronde

Bloem Fun Centre is een van die aanloklikste uitstappies in die stad. Hulle bied verskeie aktiwiteite vir jonk en oud! Springmatte vir alle ouderdomme, seerowerskip, prinses kasteel, rolskaatsbaan, ‘n dans hoekie en klimraam is maar net van die aktiwiteite om van te kies. Dit is die perfekte gesinsuitstappie en ouers kan saam met hulle kinders baljaar!

2. Bloemfontein Bridge Swinging – N8

Bloemfontein bied selfs aktiwiteite vir die adrenalien aanhangers! Op Saterdae en Sondae word daar brug spronge aangebied by die brug net na Sannaspos op die N8. Die spronge word aangebied deur professionele en opgeleide personeel en is definitief die moeite werd.

3. Elude Escape Rooms – Louw Wepener Straat

Die Elude Escape Rooms bied die beste ontspanningsaktiwiteite vir tieners en volwassenes. Dit is belangrik om voor die tyd te bespreek, en die aktiwiteit neem omtrent 60 minute om te voltooi. Met jou aankoms sal een van die spel meesters jou inlig oor presies wat en hoe dit gebeur. Dan sal julle span in die kamer toegesluit word. Dit verg spanwerk om uit die kamer te ontsnap.

4. Die Buiteplaas – Concert laan

Die Buiteplaas is ‘n wonderlike plek vir kleiner kinders. Hulle bied ‘n pragtige area vir kinders om al hulle energie te verbrand. Die instansie is perfek geskik vir kinderpartytjies maar hulle is ook vir die publiek. Hulle bied groot speelareas met klimrame, swaaie, onderdak sandput, springmatte en fietsies. Daar is mini trekker wa ritte asook ‘n area waar plaasdiere besigtig kan word.

5. Urth Garden Centre – Kenneth Kaunda straat

Urth doen moeite om alle ouderdomsgroepe te vermaak. Hulle het ‘n massiewe speelplek vir die kinders asook ‘n dierevoer area. Terwyl die kinders speel kan die ouers deur die kwekery stap of selfs ‘n bordspeletjie geniet. Daar is ‘n koffiewinkel wat heerlike kos bedien. Op Sondae is daar spesiale aanbiedings vir kinders.

6. Pretty Gardens – Langenhoven Park

Meeste inwoners van die stad is vertroud met Pretty Gardens. Die kompleks bied ‘n enorme speelarea vir die kinders, verskeie restaurante en koffiewinkels asook verskeie winkels. Dis ‘n wonderlike plek om bietjie uit te span en te vergeet van die gejaagde stadslewe. Daar is ‘n wye verskeidenheid van aktiwiteite en oud en jonk sal hulle gate uit geniet.

7. Loch Logan Waterfront – Charles straat

As jy lus het vir inkopies en lekker eet, dan is die waterfront definitief ‘n plek om te besoek in die stad. Die winkelsentrum huisves verskeie kettingwinkels asook ‘n paar plaaslike boetieks. Neem gerus die kinders saam, aangesien daar ‘n Nu Metro teater is. Daar is ook go-karts aan die kant van die buite parkering. As jy nie ‘n plaaslike inwoner is nie, maak verseker ‘n draai in die legendariese Kloppers!

8. Mimosa Mall – Kellner straat

Mimosa Mall is een van daardie winkelsentrums in Bloemfontein waarvan meeste mense of weet of selfs al besoek afgelê het. Die winkelsentrum bied verskeie winkels asook kettinggroepe. Daar is fantastiese restaurante asook ‘n koffiewinkel wat bekend is vir hulle fantastiese koffie (hulle rooster self hulle koffiebone). Mimosa bied ander tipe winkels as die ander winkelsentrums in die stad en is definitief die moeite werd om te besoek.

9. Botaniese tuin – Groenvlei

Die Botaniese tuin is ‘n versteekte juweel in Bloemfontein. Meeste inwoners vergeet van hierdie pragstuk natuur wat binne die stadsgrense geleë is. Die tuine beslaan 70 ha en laat besoekers vinnig vergeet dat hulle binne die stad se grense is. Die tuine huisves verskeie plantsoorte en dit is regtig die moeite werd om ‘n piekniekmandjie te pak en daar te gaan uitspan. Daar is ‘n koffiewinkel waar jy heerlike kos kan geniet asook ‘n speelarea vir die kinders.

10. Jumperslane – Bainsvlei

Jumperslane is Bloemfontein se eerste binnenshuis se springmat sentrum. Hier maak dit nie saak wat jou ouderdom is nie, jy kan jou gate uit kom geniet en jou verbeel jy is dalk net 5jaar oud. Die sentrum bied verskeie spring opsies soos die slam dunk area en die “dodge-ball” area. Julle kan ‘n familie wedstryd teen mekaar hou of net julleself geniet in die verskeie vry-spring areas. Dis ‘n goeie idée om op hulle webblad to bespreek.