Padkos Idees

Padkos Idees

Padkos Idees

Een van die eerste dinge waaraan ‘n lang reis per motor mens laat dink, is padkos. Daar is die tradisionele hardgekookte eiers, toebroodjies, frikkadelle, hoenderboudjies, worsies, water, koeldrank, koffie, tee en dies meer. Dit is altyd lekker om die gesin te verras met iets nuuts en meer opwindends, probeer dus die volgende idees om padkos ‘n nuwe ervaring te maak vir jou mede-reisigers:

PEUSELHAPPIES:

Springmielies: Dis ‘n uitstekende peuselhappie aangesien dit gesonder is as aartappelskyfies. Dit kan gegeur word met sout, peper, springmieliespeserye of versiersuiker(vir die soettand). Springmielies kan ook bedek word met ‘n karamelsous wat verhard. Nog ‘n weergawe is om malvalekkerballe te maak met gesmelte malvalekkers en springmielies.

Pretzels: Dis een van die maklikste peuselhappies. Verpak vir elke persoon ‘n verseëlbare sakkie vol. Kinders is mal daaroor. Vir ‘n afwisseling kan dit selfs in jogurt gedoop word.

Biltong en Droëwors: Dit is ‘n goeie bron van proteïene en wie hou nou nie van biltong en droëwors nie? Pas net op om nie te veel daarvan te eet nie, aangesien dit veroorsaak dat mens baie dors word.

Energiestafies: Koop stafies vir ‘n maklike peuselhappie. Tuisgemaakte energiestafies is ‘n smaaklike vervanging vir gekoopte stafies en jy kan jou gunsteling vrugte/neute byvoeg.

Neute bedek met sjokolade: Koop pakkies in enige supermark of maak jou eie deur sjokolade te smelt en jou gunsteling neute daarin te doop. Gebruik donker sjokolade vir ‘n gesonder weergawe.

Geroosterde keker-ertjies: Rooster kekerertjies en geur dit met jou gunsteling spesery/geurmiddel. Dit is ‘n lekker bros peuselhappie.

Vrugtepuree: Puree wat in sakkies met skroefdoppies verpak is, is ‘n gerieflike manier om jou gunsteling vrug te eet wat moontlik te morsig sou wees om in die motor in sy oorspronklike vorm te eet. Jy hoef nie alles op een slag te eet nie aangesien jy net die proppie kan toeskroef as jy genoeg gehad het.

Joghurt: Koop drinkbare jogurt of meng jogurt met melk om dit vloeibaar te maak en verpak dit in bottels.

Kaasstokkies: Gebruik enige semi-harde kaas. Sny in stokkies en verpak.

Droëvrugte: Veselperskes, appels, piesangs, kokosneute, perskes, appelkose en pynappel is gewilde keuses. Kyk uit vir droëvrugte wat nie bygevoegde suiker en preserveermiddels het nie.

Vars vrugte & groente:

  • Blomkool en Broccoli in blommetjies gebreek
  • Babawortels of wortelstokkies
  • Baba-ertjies
  • Selderystokkies
  • Radyse in skyfies gesny
  • Kersies
  • Nartjies - klaar geskil en verpak
  • Appels
  • Druiwe

KOS:

Muffins: Tuisgebakte of gekoopte muffins. Pak ‘n paar variasies in om te verseker elkeen kry sy/haar gunsteling. Volgraan muffins met kaas is ‘n wenner.

Pasta slaai: Pak vir elkeen sy eie bakkie met ‘n vurkie. Variasies sluit in: perske en groenrissie, tuna, spek en sampioene, ham en kaas, biltong en feta, hoender, ens. Omtrent enige iets kan by die pasta gevoeg word met ‘n sousie om alles bymekaar te bring.

Brood: Vervang tradisionele toebroodjies met vulsels soos hoender en mayonnaise, biltong en avokadopeer, spek en heuning, maalvleis en blatjang, bees filet/kruisskyf/lendeskyf met uie, spek en kaas, ens. Afhangende van die vulsel kan toebroodjies vars ingepak of gerooster word (“snackwich”)

Worsrolletjies: Koop pakke gevriesde worsrolletjies en bak en verpak dit net. Dit kan ook self gemaak word met die vulsel van jou keuse. Pak klein houertjies met doopsouse (bv. tamatiesous) wat dig seël.

Piesangbrood: Dit is ‘n goeie bron van energie en kan maklik verpak word. Sny piesangbrood vooraf in skywe of bak piesangmuffins in kolwyntjiepanne.

Tortillas: Maak “wraps” met vulsels soos hoender en mayonnaise, tunaslaai, maalvleis en kaas, bees filet/kruisskyf/lendeskyf met avokadopeer/guacamole.

Kouevleis,kaas en beskuitjies: Pak ‘n verskeidenheid beskuitjies, kaas en kouevleise. Dis vinnig om die houers oop te maak en te eet. Geen eetgerei is nodig nie. Gebruik hersirkuleerbare verpakking wat weggegooi kan word na die ete.

DRANKIES:

Klapperwater: ‘n Natuurlike manier om hoofpyne te voorkom terwyl jy bestuur.

Vrugtesappies: Individuele vrugtesappies  keer dat daar in die kar gemors word met koppies sap/koeldrank. Kry sappies met ‘n lae suikerinhoud om te verseker dat jou bloedsuiker konstant bly.

Koffiedrankies: Dis ‘n goeie hulpmiddel indien die bestuurder moeg raak. Pasop vir te veel kaffeïen aangesien dit jou kan dehidreer.

Vrugteskommels: Kan gekoop word of jy kan dit self maak met vars of gevriesde vrugte. Verpak dit in bottels met strooitjies.

Water: Pak altyd genoeg water in. Water kan vooraf gevries word en sommer dien as ys vir die koelhouer. So is daar altyd lekker koue water in die motor, selfs op warm dae.