Ons reis deur die Tuinroete

Ons reis deur die Tuinroete

Die Tuinroete is een van die gewildste vakansie bestemmings in Suid-Afrika en gedurende die Desember vakansie lok die area miljoene besoekers. Daar is ‘n ongelooflike groot hoeveelheid aktiwiteite in die area en dit is makliker om te kyk wat is die hoogtepunte in elke dorp as wat dit is om elke aktiwiteit te lys.

Mosselbaai

Die dorp het ‘n ryk marine geskiedenis aangesien dit die eerste besoekpunt van die Portugese ontdekkers aan ons kus was. Die Bartlomeu Dias Museum Kompleks is ‘n definitiewe besoekpunt vir jonk en oud. Dit het verskeie uitstallings oor die geskiedenis van die area wat die marine asook die ekonomiese geskiedenis insluit. Maak ‘n draai by die Poskantoorboom en gaan kyk na die skaal-model replika van die Dias Caravel. Die Diaz Express is ‘n moet vir enige besoeker wat nog nooit in ‘n stoomtrein gery het nie. Dit gebruik ‘n deel van die tanse Transnet spoorlyn en loop tussen Mosselbaaien George, maar doen ook aan op Glentana en Groot Brak. Die Cape St. Blaize vuurtoring is in 1864 gebou en dis ‘n bekende toeriste aantreklikheid in die omgewing. ‘n Besoek aan die ligtoring sal nie net opvoedkundig wees nie maar ook baie pret -  daar is fantastiese plekke oppad daarheen om pragtige foto’s te neem.

Knysna

Knysna is bekend vir die fantastiese kos en restaurante wat die dorp bied. Daar is verskeie aktiwiteite in die omgewing wat jonk en oud sal geniet. Die Aand Mark bied ‘n groot verskeidenheid interessanthede en daar is ‘n klimraam asook speelgoed vir huur. As julle tyd in die buitelug wil spandeer dan moet julle ‘n draai maak by die Red Berry Farm. Daar kan mens vars bessies pluk as dit binne seisoen is. Theses Eiland bied 2 fantastiese restaurante met genoeg speelplek vir die kinders. Jy kan weglê aan fantastiese kos en drank terwyl jy ‘n ogie oor die kinders hou. Die natuurskoon in die omgewing is asemrowend, en jy kan die kinders vat om op die strand te gaan speel, of een van die verskeie staproetes in die omgewing te gaan geniet. Die dorp se aktiwiteite wissel tussen hardloop jou moeg agter die kinders aan, of sit rustige en geniet goeie kos en wyn terwyl jy hulle dop hou.

Plettenbergbaai

Plettenbergbaai word gesien as die Monaco van Suid-Afrika, en dit maak die dorp een van die land se gewildste bestemmings. Die dorp is wel bekend vir al die verskeie feeste wat jaarliks daar aangebied word insluitend Rage (die matriek vakansie makietie). Daar is verskeie canopy toere waar jy in die boomtoppe kan rond rits of jy kan ‘n boot huur vir die dag en dit op die see spandeer. Jy kan selfs ‘n perd huur en die omgewing so verken. As jy bang is vir perde dan kan jy altyd net ‘n fiets huur en deur die natuurskoon ry. In die Piesang Vallei is daar die Wild Waters pretpark, waar die kinders al hulle energie kan verbrand terwyl hulle ongelooflike pret het. Die Tsitsikamma Segway Experience is ‘n alternatiewe manier om die woude te verken en die aktiwiteit sal groot aanklank vind by die ouer kinders en ure se pret verskaf.

George

George is geleë aan die voet van die Outenikwa berge. Die dorp is so sentraal geleë dat jy die Tuin roete sowel as die klein Karoo van hier af kan verken. Die Kango Grotte by Oudtshoorn is ‘n definitiewe moet op enige aktiwiteit lys, veral as julle nog nooit daar was nie. Maak ook ‘n draai by ‘n paar van die plaaslike volstruis boere waar jy die voels van nader kan beskou en selfs op ‘n volstruis sal kan ry. Daar is ook verskeie perde roetes in die omgewing waar jy ‘n perd kan huur en die area verken. Daar is verskeie maatskappye wat ‘n toergids bied om jou die omgewing te wys en dis die moeite werd om een van hierdie mense te gebruik. Vir die ouer kinders is daar die Lets Go Bowling kegel rolbaan, en dit sal hulle vir ure besig hou. Paradise Adventure bied aktiwiteite aan wat jou sal herinner aan ‘n boskamp en die aktiwiteite is vir alle ouderdomsgroepe. Vir die wat bietjie adrenaline soek moet ‘n draai gaan maak by die Garden Route Paintball Games, waar die seuns hulle oorlog fantasieë kan uitleef.